registreer
Tuis / Ouers / Artikels vir Ouers / Kinder Opvoeding / Kwaliteittyd wat die teiken tref

Ons Nuusbrief

Algemene Nuusbrief


Receive HTML?

Kwaliteittyd wat die teiken tref

Kwaliteittyd met ’n kind is soos om vis te probeer vang as jy net tien minute het. Jy moet die vis baie goed ken! Net so kan kwaliteittyd net in die kol wees as jy jou kind se unieke behoeftes verstaan.


Hierdie verkorte “Boomsoortprofiel” kan jou help om jou kind se geaardheid beter te verstaan sodat jy jou kosbare minute reg kan aanwend.

Merk die 15 eienskappe hieronder wat die prominentste is by jou kind.

A

Spontaan

Bekkig

Nuuskierig

Entoesiasties

Avontuurlustig

Vermaaklik

Ondeund

sjarmant

 

B

Kompeterend

Aggressief

Selfgedrewe

Baasspelerig

Uitdagend

Gedetermineerd

Onafhanklik

verantwoordelik

 

C

Sensitief

Kunssinnig

kermrig

Noukeurig

Ernstig

pligsgetrou

Emosioneel

Vol fiemies

 

D

Tevrede

versigtig

aanpasbaar

vredeliewend

rustig

stil-hardkoppig

versorgend

eenkant

 

Skryf die tellings hier neer: Aantal by A)_______ B) ______ C)________D)_______

Watter soort “tantrums” was/is tipies van jou kind? Ken op ’n glyskaal 0 tot 5 punte toe: as die beskrywing hieronder soos ’n handskoen pas, ken 5 punte toe en as dit glad nie jou kind beskryf nie, ken 0 punte toe.

A Melodramatiese “konserte” met trane wat gou vergeet word

B Geweldige woede-uitbarstings – intens en langdurend

C Selfbejammerende treurmares, ’n uitmergelende gekerm

D Weiering soos ’n steeks donkie, onttrekking, stilstuipe

A_____B_____C_____D____

Wat beskryf jou kind se sosialisering en spel die beste? Ken weer 0 tot 5 punte toe. .

A Baie gewild onder maats, nie bang vir vreemdes, gesels graag, speel verbeeldingspeletjies

B Baie konflik met maatjies, speel kompeterend en neem leiding, kan intimideer of oorneem

C Een of twee beste maats, verkies rustige speletjies met vaste reëls, kan alleen speel.

D Maak stadig maats, lojale vriend, neem almal in ag, soms skaam, toeskouer eerder as deelnemer

A_____B_____C_____D____

Tel nou al die punte bymekaar. A_______B_______C______D______

A is die Palmboompies, B die Roosboompies, C die Sierboompies (“Lollipops”) en D die Denneboompies. Volg die wenke vir die prominentste boompie(s) saam met die drie reëls vir kwaliteittyd:

  • Gee onverdeelde aandag. Selfone is verbode.
  • Volg jou kind se leiding, hierdie is nie ’n leergeleentheid waar alles “reg” gedoen moet word nie.
  • Haal jou ma- of pa-hoed af en word ’n “veilige” speelmaat. Vergeet eers van tafelmaniere, of jou kind skoon is en of hy goeie sinskonstruksie gebruik!

 

PALMBOOMPIES

Palmboompies wil geleentheid hê om jou te laat hande klap, saam met jou te lag, aktiewe, opwindende pret te hê en iets baie sensories te beleef. Palmboomkleuters wil beslis nie op die bed lê en storie lees nie tensy die storie baie opwindend is en jy dit met groot gebare en vreemde stemme vertel! Palmboomtieners is ook heeltemal te avontuurlustig om saam met jou te sit en Scrabble speel…Hulle gaan waar die pret is!

Kleuters

  • “Hou konsert” - trek aan volgens rolle
  • Bad saam en sorg vir baie skuim en watergeweertjies…

 

  • Laerskoolkinders
  • Skiet springmielies met die deksel af
  • Dink saam ’n poets uit vir iemand in die gesin

 

Tieners

  • Bak saam ’n dekadente poeding van sy/haar keuse
  • Willig in vir ’n adrenalien-ervaring soos om saam te gaan muurklim.

 

ROOSBOOMPIES

Roosboompies wil wen, bewys hoe groot, vinnig, slim en sterk hulle is en wil van opgebottelde energie ontslae raak. Die kleuters wil buite speel waar hulle kan hardloop en voorwerpe kan gooi, skop, skiet, slaan of lanseer! As hulle teen jou kan kompeteer en wen, is dit eerste prys. Dit is belangrik om hulle te laat kies wat julle saam doen. Laat hulle die reëls maak. Om in speletjies vir hulle beheer te gee, help hulle om nie vir beheer te veg wanneer jy hulle netnou bad of bed toe wil stuur nie…!

 

Kleuters

  • Hou ’n hardskree- of verspringkompetisie
  • Kyk hoeveel keer hy op sy skopfietsie om die boom kan ry in 30 sekondes. Jaag die rekord!

 

Laerskoolkinders

  • Laat haar ’n lysie opstel van 5 items wat sy graag vir die koskas wil koop. Sy dra die beursie!
  • Help hom om sy kamer te skuif soos hy dit wil hê.

 

Tieners

  • Leer hom (en jouself, Ma!) hoe om ’n houtvuur te maak en laat hom iets braai vir die hele gesin.
  • Neem hom/haar na ’n verlate grondpad of parkeerterrein en laat hom/haar ’n bietjie die stuurwiel vashou…

 

SIERBOOMPIES

Hierdie boompies weet nie altyd hoe om te speel en pret te hê nie. Hulle is dikwels “binnekinders”. Hulle skram weg van kompetisie en gevaarlike speletjies. Hulle kunssinnigheid en liefde vir passiewe speletjies gee vir jou leidrade… Hulle wil nie noodwendig pret hê nie. Hulle wil eerder iets konstruktiefs doen of iets spesiaals maak. Wanneer hulle moeg is, is hulle egter krities, buierig en hipersensitief. Kies dus jou tyd versigtig!

Kleuters

  • Bou ’n tent met tuinstoele en komberse en hou piekniek binne-in
  • Verf prente en laat dit raam vir jou kantoor. Neem hom/haar om dit te gaan ophang (dis sommer drie aparte dae se projek!).

 

Laerskoolkinders

  • Gaan kyk kinderteater
  • Kyk saam deur foto-albums uit julle altwee se verlede

 

Tieners

  • Woon saam ’n skeppende werkswinkel of klas by, bv ’n mosaiek- of scrapbooking-klas .
  • Speel ’n intellektuele speletjie van sy/haar keuse.

DENNEBOOMPIES

Denneboompies het die minste energie. Dis in die “samesyn” eerder as die aktiwiteit of geselsies wat hulle “lees” dat jy hulle geniet. Jy gaan nie vreeslik intense reaksies en opwinding by hulle kan aanblaas nie. Hulle is ’n bietjie soos nat hout – brand nie maklik nie! Hulle het min belangstellings en sal sukkel om aan iets te dink as jy vra: “Wat wil jy doen?” Met hulle mag jy ’n uitsondering maak en versigtig leiding neem. Rustigheid sonder druk is die sleutel!

Kleuters

  • Blaai boekies deur sonder om vrae te vra oor die prentjies of inhoud
  • Gaan voer diertjies by ’n kinderdieretuin of sommer voëls in die tuin.

Laerskoolkinders

  • Begin saam ’n versameling. Hou dit vol- jaar na jaar!
  • Begin ’n groentetuin, kruietuin of ten minste ’n blombak!
  • Tieners
  • Leen gholfstokke en gaan toets julle swaai uit.
  • Vra hom/haar om jou te wys hoe ’n chat-room, blogging of die nuutste iPod werk.

Ons kan ons kinders geniet en hulle vir ons, wanneer ons die invloed van ons geaardhede in ag neem. Hettie Brittz se splinternuwe ouerskapboek “Kweek kinders met karakter –hoe om elke boompie na sy aard te buig” bevat die volledige Boomsoortprofiel vir kinders én ouers en sakke vol praktiese raad vir die dissiplinering en koestering van elke boompie!

LW. Hierdie is die mening van die skrywer en hou nie direk verband met BesterKlub.com nie. Dit word slegs verskaf as inligting. Bg kan natuurlik gebruik word om die BesterKlub Program nuttig aan te wend!

 

Teken In




Another Custom Web Development by Kalemanzi GFX Media Solutions
viagra